Geskiedenis
Oom Hendrik Herman het by sy woning, een van die buitegeboue afgestaan vir ‘n skoollokaal en daar het M Ribbens (ds. Krige skrywe van Ribbens) aan die kinders van Daspoort en omgewing hulle skoolonderrig gegee vanaf 1894. Die Republikeinse Regering het 5l- per kind bygedra sodat Mnr Ribbens plus minus 20 pond per maand ontvang het.
Met die Anglo-Boere-oorlog is alles verwoes, maar na die oorlog is weer ‘n begin gemaak met ‘n skool op die hoek van Gerrit Maritz- en Claremontstraat. Daar is eers in tente skool gehou totdat die Claremont-Daspoortskoolgebou voltooi is.
Die kontrakteur van die gebou was JJ Kirkness en die voorman Frank Day, die latere burgermeester van Pretoria.
Frank Day het heelwat veranderinge en verbeteringe by die oprigting van die skoolgebou aangebring en moes as gevolg daarvan ‘n ander werk soek. Hy het toe self ‘n boukontrakteur geword.
Die skoolgebou is in 1906 geopen deur wyle Genl. JC Smuts. Die eerste prinsipaal was mnr Pollinger, ‘n man wat uit Engeland na Suid-Afrika gekom het en hom so knap gedrag het dat hy die agting van die Afrikaanssprekendes ook geniet het.
Hierdie Claremont-Daspoortskool was ‘n parallelmediumskool tot 1921 toe mnr JD Le Roux, die vise-prinsipaal, nadat die ouers agiteer het vir ‘n Afrikaansmediumskool, na Hermanstadskool oorgeskuif is. Die Claremont-Daspoortskool het toe ‘n Engelsmediumskool geword in 1949.
Na mnr Pollinger het mnr Frand Meadown-Taylor hoof geword en na hom mnr Freen. In 1946 trek mnr Freen en sy personeel oor na die nuwe Engelsmediumskool naby Herculesstasie, en die Claremont-Daspoortskool word toe ‘n spesiale skool met mnr Botha as prinsipaal.
In 1949 tree mnr Freen af as hoof van die Engelsmediumskool, en word hy opgevolg deur mnr Gilmore. Die Hermanstadskool is in 1921 deur mnr JD le Roux begin met ses klasse in ‘n gebou met 7 klaskamers.
In 1922 was al sewe klaskamers vol en daarna is elke jaar klaskamers aangebou totdat die vierkant voltooi is. In 1930 was die gebou totaal te klein vir die getal leerlinge sodat 5 klasse buitekant die skoolterrein in kerksale en in die Daspoortsaal gehuisves moes word.
Die toestand was onprakties sodat mnr JA Spruyt in 1931 met 84 leerlinge en ‘n klompie ou banke na ‘n skoolgebou in Claremont gesekondeer is. Hierdie afskeiding het tydelik verligting gebring, maar in 1935 was Hermanstadskool weer oorvol dat mnr Erasmus na Mountain View oorgeplaas is met ‘n aantal leerlinge en weer was daar verligting.
In 1935 is ook ‘n proefneming aan die Hermanstadskool gemaak met senior klasse tot by st. VI, en aan die einde van 1937 het 12 kandidate hulle st. VII-sertifikate gekry.
Hierdie proefneming was nie ‘n weg met rose besaai nie, want tikwerk is op die stoepie of onder die bome gegee terwyl daar geen laboratorium aan die skool was nie. Daar was 720 leerlinge en toe is die senior klasse na die Engelsmediumskool oorgeplaas en tente is op die skoolterrein opgerig.
Nog meer tente is opgeslaan. Hercules was daardie jaar baie geseënd met reën sodat dubbele klapperhaarmatrasse op die grond gegooi moes word. Vir die kweekgras was dit egter nie ‘n probleem om tussen en selfs deur die klapperhaarmatrasse te groei nie, sodat dit binne en buite die klaskamers nie te goed gegaan het nie.
Met die medewerking van die inspekteurs, mediese raad en amptenare het die Provinsiale Administrasie die “Nagmaalsviering” of “Konsentrasiekamp” in 1941 beëindig deur ‘n nuwe aanleg met 5 klaskamers op ‘n stuk grond tussen Edward-, Montaque-, Dorp-, en Gerrit Maritzstraat op te rig.
Mnre WJ Basson, AF van Zyl, JJ Mulder en JL van Heerden het die nuwe gebou in Oktober 1941 betrek. In 1942 is die st. 6 klasse van die Hermanstadskool ook oorgeplaas en was daar weer blaaskans. Al hierdie ontberings moes mnr JD le Roux deurgaan en toe hy aftree het in 1949, het hy hom na al die jare van diens buitekant Hercules gaan vestig om ‘n bietjie te gaan rus.
Mnr Steyn, vise-hoof van Hermanstad, het tydelik waargeneem totdat mnr HS Grobler die teuels oorgeneem het in 1950. In 1951 is Hermanstadskool weer te vol en word ‘n nuwe Laerskool in Pretoria-Gardens opgerig met die doel om verligting vir die skool asook vir Genl. Nicolaas Smitskool, een van die dogters van Hermanstadskool wat ook te kinderryk geword het, te bring.
Visie
Om ‘m skool te wees wat hom ten doel stel om die leerder te motiveer, onderrig, lei en gelukkig te maak en waar leerders toegerus word met die nodige lewensvaardighede deur vernuwende onderwysdenke en effektiewe bestuur.
Missie
Ons streef daarna om met ‘n opgeleide en toegewyde personeel, ons ouers en ons leerders te verseker van:
- ‘n Christelike opvoeding;
- Die beste onderrig volgens ons vermoëns, talente en opleiding;
- Ons beste diens te alle tye en onder alle omstandighede;
- Om ‘n skool te wees wat die leerder se belange altyd eerste stel sodat hy/sy dit sal beleef as ‘n veilige vesting wat sy/haar toekoms sal verseker;
- Om op die individu te fokus;
- Om saam met die ouers die voorspoed en geluk van elke leerder te soek;
- Om elke leerder die geleentheid te gee om tot sy/haar volle potensiaal te ontwikkel deur middel van akademie, sport, kultuur en entrepreneurskap;
- Respek vir gesag en dissipline in die skool wat lei tot self-dissipline en verantwoordelike besluitneming;
- Om leerders toe te rus vir die volwasse lewe na skool;
- Dat leerders ook mekaar se belange sal respekteer.
Simboliek Van Ons Skoolwapen
Kleure:
Rooi – vir stryd (want sonder stryd kom niks goeds tot stand nie)
Groen – vir groen (deur te stry vir wat ons eie is, groei ons ook geestelik en erken ons dat God nog steeds sy Skepping onderhou)
Vertikale Strepe:
Die sewe vertikale strepe stel die sewe grade (Gr .1-7) voor.
Plant:
Die PLANT is die KANNIEDOOD
Dit is simbolies van die Afrikanervolk wat vir die jaar lank in oorlogstryd teen ‘n magtige land en groot oormag was, verslaan is, maar “KANNIEDOOD” weer herstel het en gegroei het tot die volk wat tans die leiding in SUID-AFRIKA GEE.
Goueblare:
Honderd jaar bestaansjaar
Die Leuse:
“STREEF MOEDIG”
Stel vir jou ‘n ideal wat mooi en goed en edel is. Streef daarna met INSPANNING EN MOED, RESULTATE : SUKSES, GEMOEDSRUS EN SIELEVREUGDE
Mag die leser hiervan, inspirasie hieruit put